Tuesday, 15 March 2016

Die doeltreffende klaskamer


Die doeltreffende klaskamer

As onderwyseres dink ek dit is baie belangrik en ook waardevol om vir leerders ‘n omgewing te skep waar hulle tuis en gemaklik voel om deel te wees van die klasgesprek en leeromgewing.  ‘n Omgewing moet geskep word waar hulle gretig is om deel te neem en ook een wat die leerproses motiveer.

 

Daar is ongelukkig vele faktore wat ‘n rol speel wat dit nie altyd maklik maak om hierdie ideale omgewing te skep nie. Onder andere, leerders se gedrag kan nie altyd voorspel word nie en daarom kan daar nie ‘n “perfekte” klasomgewing beplan word nie.  Wills redeneer dat die leerders se gedrag dikwels die rede sal wees dat belangrike gebeure in die klas gemis word en selfs nie eers plaasvind nie.

 

‘n Ander faktor wat ‘n invloed het op die rustige leeromgewing is geraas.  Dit is die onderwyser/onderwyseres se plig om so saam met tegnologie en pedagogie te ontwikkel dat dit op die beste moontlike manier gebruik kan word om hierdie faktore te oorkom.  Ons as onderwysers moet kan aanpas en soveel as moontlik van ons kant af doen om hierdie struikelblokke te oorkom.

 

Doeltreffende betrokkenheid van leerlinge in die klaskamer en leeromgewing kan bevorder word deur doeltreffende gebruik van digitale pedagogie.  Elke onderwyser is in staat om hierdie omgewing te skep.

 

C.S. LEWIS het gesê : “The task of the modern educator is not to cut down jungles, but to irrigate deserts.”

Tuesday, 8 March 2016

Afstandleer en Tegnologie


“Education must begin with the solution of the

teacher-student contradiction, by reconciling the

poles of the contradiction so that both are

simultaneously teachers and students.” 

 

Hierdie is die woorde van Paulo Freire in die Pedagogy of the Oppressed.

 

 Ek moet erken, ek moes dit ‘n paar keer oor en oor lees sodat ek kan verstaan wat daar gesê word.  En dit maak 100% sin.  Hierdie teenstrydigheid is noodsaaklik.  Onderwys gaan nie oor net die onderwyser as fasiliteerder en net die leerder as ontvanger van kennis nie. Nee, die onderwyser moet ook deur die leerder kennis opbou en by die leerder leer, veral oor wat die leerder se siening is.  Dit is ‘n tweerigting aspek.

 

Information and Communication Technology, beter bekend as ICT, is iets wat ‘n dominerende rol in die onderrig omgewing speel en dit beperk digitale geletterdheid.  Dit veroorsaak ‘n “blok” in die geleentheid vir leerders om opinies en idees te lewer.  Hulle siening oor sake word beperk en ek dink dit maak leerders ook minder kreatief.  Ek kom weer terug na die woorde van Paulo Freire, wat meen dat daar ‘n teenstrydigheid moet wees tussen onderwyser en leerder.  Dit bevorder interaksie en kommunikasie van beide.

Soos ek in my vorige blogs genoem het, ontwikkel tegnologie en wetenskap by die dag, en dat ons op daaglikse basis daarby moet aanpas.  Ek ondersteun afstandleer 100%, want dit is nog ‘n manier hoe ons aanpas by tegnologie, en dit vergemaklik die lewe van baie student.  Dit sal ‘n goeie ding wees om sosiale media hierby te betrek.  Die nuwe digitale hulpmiddels wat beskikbaar is vir studente, maak die deure oop vir kreatiwiteit en verbeelding.  Ook vir kennis.  Die ICT literatuur standaarde verwys ook na digitale tegnologie as aanvullings vir vakke. Dus dien dit as hulpmiddels vir leer en onderrig, en nie net ‘n proses van onderrig nie. Indien hierdie tegnologie benader word asof dit ‘n leerproses is, en op ‘n speelse manier aangewend word, kan dit lei tot belangrike ontdekkings en wetenskaplike bevordering..

Die leerders is nie net ontvangers van kennis nie, maar die skrywers van hulle eie onderrig ervaring.

Ek sluit my vierde blog af met die volgende aanhaling van Henry Ford.

 

“Coming together is a beginning; keeping together is progress; working together is success.”

 

 

Tuesday, 1 March 2016

Sosiale Media in die Klaskamer


Sosiale Media in die Klaskamer

 

As jy hierdie onderwerp 10 jaar terug genoem het, sou almal jou verstom aangegluur het.  Wat beteken Sosiale Media in die Klaskamer nou eintlik?

 

Ek glo dat Sosiale Media, soos tegnologie, daagliks verbeter en ontwikkel.  Ek glo ook dat as dit op die regte manier gebruik word, verryk dit ons lewens en verbreed dit ook ons kennis.  Maar – daar is perke, en sodra dit misbruik word, kan dit tot negatiewe gevolge lei.

 

In my kurrikulum vakgebiede, naamlik Lewenswetenskap en Wiskundige Geletterdheid, dink ek daar is taamlik goeie maniere om van sosiale media gebruik te maak.  In Lewenswetenskap kan Youtube veral, gebruik word om verskeie biochemiese prosesse visueel aan leerders te verduidelik. 

 

Ek kan van twitter gebruik maak om opdragte aan leerders deur te gee, en ek kan hulle ook aanmoedig om ‘n respons te lewer via ‘n twiet.  “Links” kan opgelaai word en leerders kan gaan selfstudie doen deur net op die “link” te druk.  Dan is daar Instagram, die gewilde manier om foto’s op te laai en te “hashtag”.  Leerders kan daardie “hashtags” ook volg om ‘n visuele illustrasie van sekere fotos in die Lewenswetenskap veld te bekom.

 

Leerders moet wel eers bewus wees van die goed en die sleg van sosiale media, dus sal dit goed wees as ‘n inligtingsessie vir hulle aangebied word om die verskeie faktore op sosiale veld te verstaan.  Volgend Provenzano word daar gestel dat wanneer kommentaar gelewer word as respons, dit kommunikasie en dieper denke stimuleer.  Dit dra dan ook by tot ‘n goeie klasgesprek en laat leerders toe om onder mekaar en met my as onderwyser te redeneer en tot ‘n gevolgtrekking te kom.

 

Sosiale media dra by tot die vermoë van onderwysers en leerders om met mekaar te kommunikeer op ‘n tegnologiese vlak, en maak die proses van pedagogiese ervaringe beter.

 

Ek het in my vorige blogs ook genoem dat tegnologie daagliks ontwikkel en verbeter, en dit is algemeen dat sosiale media ook so vinnig ontwikkel.  Leerders is daarom heeltyd bewus van onmiddelike veranderinge en pas daarby aan.  In die wetenskaplike wêreld word daar ook daagliks nuwe dinge uitgevind, en ons kan deur middel van sosiale media vroegtydig bewus wees van hierdie studies.

 

Vicki Davis meen dat mens nie noodwendig heeltyd die gewildste sosiale media moet gebruik nie.  Dit is as hulpmiddel tot ons beskikking vir wanneer ons dit mag nodig kry.

 

Ek stem saam.  Sosiale media is daar om tot ons voordeel te gebruik.  Soos wat tegnologie en wetenskap daagliks ontwikkel, kan ek nie sien waarom ons hierdie manier van kommunikasie nie kan gebruik nie.